Parasitiese siektes

Baie siektes van die mens, asook van plante en ander diere word veroorsaak deur parasiete. Hierdie artikel bepaal hom slegs by die mens. Hoewel virusse, bakterieë en skimmels ook in sekere mate parasiete is, word onder parasitiese siektes van die mens alleenlik verstaan daardie siektes wat veroorsaak word deur dierlike parasiete: protosoë (eensellige diere), wurms en geleedpotiges. Parasitiese siektes speel 'n veel groter rol in die trope en subtrope as in die Westerse wêreld.

ʼn Belangrike rede hiervoor is dat die oordraer of tussenganger van sommige van die siektes alleenlik in bepaalde dele van die subtrope voorkom. Faktore soos armoedige behuising, swak liggaamshigiëne en 'n gebrek aan betroubare drinkwater en riolering vergemaklik ook die oordra van hierdie siektes. Baie van die bewoners van hierdie lande is ook draers van een of meer soorte parasiete. Hoe meer soorte en hoe groter die getal parasiete is wat een gasheer huisves, hoe groter is die skade wat hulle sal aanrig.

Parasitiese infeksie (die aanwesigheid van parasiete) is nie dieselfde as parasitiese siektes nie. Baie parasiete berokken hul gasheer so min skade as hulle in klein getalle aanwesig is dat geen teken van hulle by die gasheer waargeneem kan word nie en derhalwe is hy ook nie siek nie.

Daar word dan na so 'n gasheer verwys as 'n draer van 'n parasiet. Hierdie draers speel 'n belangrike rol by die verspreiding van die infeksie. Onder bepaalde omstandighede (byvoorbeeld as die weerstand van die gasheer deur slegte voedingstoestande of bykomende infeksiesiektes verminder word kan die bestaande ewewig verbreek word en die gasheer word dan siek. 'n Besmetting met ektoparasiete (parasiete wat op die oppervlak van die gasheer leef) staan oor die algemeen bekend as infestasie: die terme infeksie en infestasie word egter dikwels verwar.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search